Die boom
Ek deel gereeld oor die hart, en ek wil hiermee graag nog ‘n gedeelte oor die tema van die hart deel. Kom ons spring weg met ‘n Skrif wat ek aan die begin van die reeks nogal baie gebruik het.
Matt 12:33 “Julle moet óf die boom goed maak en sy vrugte goed, óf julle moet die boom sleg maak, en sy vrugte sleg, want aan die vrugte word die boom geken.”
Hoe weet ons dit is ‘n appelboom? Ons sien hy dra appels. ‘n Peerboom dra pere. Wat uit ‘n persoon se mond uitvloei is die vrug van dit wat diep in die hart aangaan.
12:34 “Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.
12:35 “Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.”
Die tong gee rigting vir ons lewens
Wat dus hier binne die hart aangaan, is ook wat uit ons mond gaan uitkom. As ons kyk na Jakobus hoofstuk 3 waar Jakobus van die tong praat, sê hy die tong is soos die roer van ‘n skip.