In 1Kronieke 12:32 lees mens van sekere seuns van Issakar “met kundige insig wat die tye betref, om te weet wat Israel moes doen;”. Hierdie manne het gekom om Dawid by te staan om koning te word. Saul, die koning, was dood.
‘n Seisoen is verby en ‘n nuwe seisoen het aangebrek. Hierdie manne het insig gehad in YHWH se seisoene en hierdie insig het hulle gehelp om goeie besluite te maak vir die verbetering van die volk as ‘n geheel.
Gen 8:22 “Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.”
YHWH het seisoene geskape. Seisoene is patrone wat hulself onfeilbaar herhaal. Seisoen volg met voorspelbare herhaling op seisoen net soos wat die dag die nag volg, en somer, die winter.
1Thes 5:1 “Maar oor die tye en geleenthede (seisoene), broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie;
5:2 “want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag.
5:3 “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.
5:4 “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie.
5:5 “Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.
5:6 “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.”
Wanneer mens die Skrif in sy geheel lees, vind jy dat daar baie patrone (seisoene) is wat as temas deur die Bybel strek. Dit is soos verskillende gekleurde drade van ‘n pragtige tapeserie. Wanneer mens terugstaan, raak die geheelbeeld duidelik. Elke kleur is ‘n tema en elkeen voeg sy eie skoonheid tot die geheelbeeld by.
Om hierdie patrone en temas te verstaan, sal ons help om die tyd waarin ons leef, te verstaan. Die eindtye en koms van Jesus se ewige koninkryk op die aarde is sekerlik die hoogtepunt van al hierdie seisoenale patrone.
Hierdie patrone en temas dui aan waar ons vandaan kom en waarheen ons oppad is. Dit vertel vir ons wat die uiteinde gaan wees. Dit help ons om te onderskei tussen die waarheid en die misleiding. Dit gee ons hoop omdat ons sien dat die Almagtige alles perfek beplan het. Niks vang Hom onkant nie.
Reviews
There are no reviews yet.